Sondag, 17 Desember

Refentse

Kort op die hakke van ’n skoonskip-vertoning by die Ghoema Afrikaanse Musiektoekennings, verras Refentse met “Deur my venster” – ’n kraakvars nuwe album waar hy ook self sy pen inspan! En op Sondag, 17 Desember, skop hy ReedValley se sterbelaaide vakansieprogram af!

Deure open 18:30 en die vertoning sal om 20:00 begin. Kaartjies is aanlyn beskikbaar teen R150 per persoon.

Minder as ’n maand na die aankondiging dat hy in Oktober vir Lady Antebellum sal open vir die plaaslike vertonings van hulle You Look Good wêreldtoer, het Refentse by die Ghoema’s met die louere weggestap vir Album van die jaar, Digitale album van die jaar, ’n Ere-toekenning vir beste verkoper en Manlike kunstenaar van die jaar, maar dis duidelik dat hierdie net die begin van selfs groter suksesse is!

“Deur my venster” getuig luidkeels hiervan met ’n kleurvolle blik op die lewe en liefde in Afrikaans – ’n ryke skatkis van nuutskeppings, saamgesmee met die immergroen legendes wat hartstaal-vuur reeds vir dekades lank diep in diegene wat daarna luister se binneste laat brand.

Die album kleur die klanke van Refentse se diep rasperstem verder in met ’n sterk en ritmiese, rockakoestiese ondertoon, afgewissel met rustiger ballades en, natuurlik, ’n lekker proetjie Boeremusiek. Nuwe snitte sluit liedjies soos die speelse “Anoret” en “Vuil Vanderbijl”, rustige nommers en ballades soos “Melans Mnel” en “Sal jy”, sowel as meevoerende walse soos “Jané vir my” in – skeppings uit Refentse se eie pen wat toon dat musiek en skryf deel van dié jong sangsensasie se DNA is, en dat sy hart deurgaans aanhou slyp aan juwele wat uiteindelik uiting in sy musiek vind.

Legendariese goue oues, sowel as meer onlangse gunstelinge, word uitmuntend – sielvol en met ’n hernude energie – deur Refentse geïnterpreteer en strek van Koos Kombuis se “Lalie”, Karen Zoid se “Engel”, Dozi se “Pennies op die spoor”, Koos du Plessis se “Sprokie vir ‘n stadskind”, die “David Kramer Medley” en “Breyten se brief” van Jan Blohm, tot by Laurika Rauch se “Stuur groete aan Mannetjies Roux” en die “Anton Goosen Medley” waar hy saam met die oorspronklike kunstenaars in duet tree.

Dié album is een met ’n ryke en diverse identiteit: passievol, sosiaal, voetstamp-lekker, tong in die kies, eerlik, poëties, aangrypend.

BESPREEK NOU

You might also be interested in